In 1996 het die HERE die een Sondag voor die oggenddiens met my gepraat uit die Bybel, en vir my gesê ek moet alles wat Hy vir my sê, neerskryf. Die skrifgedeelte kom uit Jeremia 30 vers 2: “So spreek die HERE, die God van Israel: Skryf vir jou in ‘n boek al die woorde wat Ek met jou gespreek het”. My eerste gedagte was: “HERE, ek skryf alreeds al die preke af wat ek hoor, en vir my eie stiltetyd het ek ‘n boek wat ek gebruik om al my gebedsversoeke en spesiale woorde mee op te teken”. Later die Sondag, terwyl ek soos ons gewoonte is, ‘n vleisie braai vir middagete, het die HERE ‘n fontein binne in my oopgemaak met gedagtes en vrae wat oor die jare sou groei tot waar hulle vandag is.
Gedurende hierdie tydperk het daar ontsaglik baie in my lewe gebeur, maar die HERE het altyd met my gepraat oor Israel en hulle uittog uit Egipte, en dat dit ook vir ons as voorbeeld moet wees oor hoe ons as Christene by Hom moet uitkom. So het ek dan uiteindelik in 2001 besluit om vinger op te neem en voor die rekenaar stelling in te neem om te doen wat die HERE my destyds beveel het. Terwyl ek besig was om die voorwoord te herskryf vir die hoeveelste maal, het ek vir die eerste maal weer gekyk na wat in Jeremia 30 staan. Ek moet erken ek het geweet dat die HERE my gevra het om te skryf, maar ek kon nooit die skrifgedeelte onthou waarmee die HERE met my gepraat het nie. Op die ou einde het ek afgekom op my oorspronklike boek waarin ek begin het om die artikels te skryf, en gelukkig het ek destyds die vers neergeskryf wat die HERE vir my gegee het. Terwyl ek in my elektroniese Bybel die vers opgesoek het, het ek skielik ervaar ek moet kyk wat sê vers 3, die vers na die opdrag, van Jeremia 30: 3 “want kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek die lot van my volk Israel en Juda sal verander, sê die HERE; en Ek sal hulle terugbring in die land wat Ek aan hulle vaders gegee het, en hulle sal dit in besit neem”. Toe ek die vers sien, het ek skielik weer net besef dat die HERE altyd getrou is, omdat die gedeeltes wat Hy met my oor gepraat het, altyd gegaan het oor Israel se trek uit Egipte uit, en hoe dit vir ons as voorbeeld moet dien. Dit is dan ook die vrae waaroor die boek handel en wat ek sal poog om te beantwoord, sodat ons as wedergebore Christene, die land in besit sal neem wat die HERE aan ons beloof het.
Die naam van die boek kom al baie jare saam met my. In my ouerhuis was dit die gewoonte dat wanneer ‘n persoon iets kontroversieel sou sê, en die persoon sy stelling uit die Skrif moes bewys, het ons altyd na Moses X vers X verwys indien ons nie dadelik op die vers kon kom nie. Die X’se is dan vervang met wat jy ook al aan gedink het. So was Moses 1 vers 3 altyd “moenie worry nie”. Ek het Moses dus ‘n bietjie aangepas om verkillende onderwerpe te behandel.
So waaroor handel die boek dan? Ek wil graag na sekere vrae wat ek as Christen het, kyk, nie soseer om altyd ‘n definitiewe antwoord daarop te gee nie, maar om die Woord van God te ondersoek, en dat die Woord die vraag beantwoord. Nie almal gaan altyd hou van wat hulle lees nie, maar dit sal slegs deur die Woord beantwoord word. As rigsnoer word Handelinge 17 verse 11 en 12 gebruik. “En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessaloníka; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was. Baie van hulle het dan ook gelowig geword, en van die aansienlike Grieke ‘n groot aantal, vroue en manne.”
Paulus het ook die voorbeeld van Israel se tog uit Egipte voorgehou vir die mense in Korinte. Hy skryf as volg: “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle nie sou weet nie dat ons vaders almal onder die wolk was en almal deur die see deurgegaan het, en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see, en almal dieselfde geestelike spys geëet het, en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus. Maar God het in die meeste van hulle geen welgevalle gehad nie, want hulle is neergeslaan in die woestyn. En hierdie dinge was voorbeelde vir ons, dat ons nie begerig moet wees na slegte dinge soos hulle begerig was nie. En wees ook nie afgodedienaars soos sommige van hulle was nie, soos geskrywe is: Die volk het gaan sit om te eet en te drink en het opgestaan om te speel. En laat ons nie hoereer soos sommige van hulle gehoereer het nie, en daar het op een dag drie en twintig duisend geval.(Rigters19-21) En laat ons Christus nie versoek soos ook sommige van hulle gedoen het nie, en hulle het deur die slange omgekom. En moenie murmureer soos ook sommige van hulle gemurmureer het nie, en hulle het deur die verderwer omgekom. Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het. Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie. Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.” (1Kor 10:1-13)
Dan was daar natuurlik my eie vrae wat ek gehad het nadat ek die woorde gehoor het: Jy het kanker en ongelukkig kon ons nie alles verwyder nie. Ek wou so graag seker maak dat ek saam met Jesus in die hemel sou wees, maar geen iemand waarmee ek gepraat het of die antwoord by gesoek het nie, kon vir my ‘n bevreegde antwoord kon gee nie, en het ek toe maar besluit om te luister na die Heiloige Gees en alles neerskryf wat ek gehoor het. Nou na 28 jaar het ek daardie sekerheid en kan ek dit met ander persone deel. Dit het my die sekerheid gegee, en jy moet maar self besluit of dit vir jou daardie sekerheid sal gee.
Die hele boek is gebaseer op die belofte aan Abraham dat hy die vader van alle gelowiges sal wees en dat in hom elke persoon geseën sal wees. So ek kyk na die verbond wat die HERE met Abraham aangegaan het, hoe Jesus die voorskrifte nagekom het sodat ons in geregtigheid met God die Vader, Jesus ons verlosser en die Heilige Gees kan wandel.
Die boek word opgedra aan Hettie, my vrou, wat baie van die artikels saam met my moes deurleef, en so ook ons kinders. Dankie vir jul ondersteuning. ‘n Spesiale woord van dank aan Hettie, vir al die ure wat sy moes luister na elke artikel, vir haar terugvoer, en vir haar eerlike en opregte kritiek. Die grootste eer kom toe aan my Vader, Redder, Skepper, en my HERE vir die geleentheid wat Hy my gegee het om die boek te skryf, en vir dit wat Hy in my ingeplant het.
Die lewe is maar ‘n baie snaakse ding. Net as ons dink ons het al die antwoorde vir al die vrae in die lewe, dan ontdek ons dat daar nog jare se vrae oor is wat beantwoord moet word. Gelukkig sal hierdie vrae ons nie meer kwel as ons saam met Jesus in die hemel is nie, want dan sal Hy ons alles in almal wees. Eers dan sal ons ten volle verstaan waaroor alles gaan.
Maar, wat maak ons terwyl ons nog op aarde is? Baie keer in ons lewe ervaar ons gebeure of omstandighede wat vir ons net onverklaarbaar is, of wat ek nie graag wil deur werk nie. In my eie lewe het dit al hoevele male gebeur. Nou, terwyl ek besig is om hierdie gedeelte te skryf is ek juis besig om weer deur so ‘n tydvak te werk.
Al wat ek weet is dat die HERE besig is om ons voor te berei vir dit wat Hy wil dat ons sal doen. Dit is ook seker oor hierdie rede dat Jesus vir ons die saligsprekings gegee het in Matteus 5 van vers 3 “¶ Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele. 4 Salig is die wat treur, want hulle sal vertroos word. 5 Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe. 6 Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word. 7 Salig is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word. 8 Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien. 9 Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word. 10 Salig is die wat vervolg word ter wille van die geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele. 11 Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil. 12 Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele; want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het.”
Jakobus het ook vir ons ‘n gedeelte gegee wat hieroor handel. Jakobus 1 vers 2 “¶ Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, 3 omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk. 4 Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.”
Hierdie gedeeltes maak dalk vandag nie vir jou sin nie, maar weet dat wanneer jy vrae het wat jy nie kan beantwoord nie, die HERE wel vir jou die antwoorde sal gee. Hoe weet ek dit? Ondervinding. Hierdie boek handel juis oor vrae wat ek gehad het in my eie lewe, en die antwoorde wat ek in die Woord gekry het. Meeste van die artikels is juis geskryf na ondervindings soos dié wat ek vandag mee werk.
Ek kyk ook na onderwerpe soos hoe ek as Christen optree wanneer ek self ervaar dat ek dalk in rebellie is teenoor al wat leef en beef. Hoe hanteer ek dit? Hoekom tree ek so op? Dit is van die vrae wat in die boek beantwoord word, asook oor hoe ek moet optree en wat wag vir my in die beloofde land.
Wat is my passie in die lewe? Dat ons elkeen sal optree soos wat die HERE graag wil dat ons sal optree. Dat ons Hom sal gehoorsaam. Ek wil so graag dat elke persoon ‘n lewende verhouding met die HERE sal hê. Dat ons nie nodig het om van Sondag na Sondag lewe net om weer op ‘n Maandag te sukkel met gewoontes wat ek weet nie van die HERE is nie. Dat ek nie aanhoudend verkeerd optree nie, maar dat ek soos Paulus op my aangesig kan val voor die lewende God, Jesus Christus, en kan vra, “HERE, wat wil U hê moet ek doen?” Onthou net dat ons Sy hande en voete op aarde is. Ons kan nie van Hom verwag om net al die probleme weg te vat nie. Ons moet soos Hy optree in alles wat ons doen. As dit nodig is om iemand te ondersteun, laat ons dan ondersteun soos Hy sou. As dit is om iemand van kos en klere te voorsien, laat ons dit voorsien en nie net saam met die persoon bid daaroor nie. Onthou, ons is Sy hande en voete.
Ons lewe in ‘n tydvak waar ons gewoond geraak het aan kits kos, kits oplossings, kits banke, en nog sommer baie ander kits goeters, en wil ons dit so graag in ons wandel met die HERE ook toepas. Ons vergeet die skrif dat ‘n duisend jaar is soos een dag, en een dag soos ‘n duisend jaar is vir die HERE. Dit is hoe die HERE oor die jare opgetree het en dit is ook hoe Hy nog steeds vandag optree. Abraham en Sara moes vyf en twintig jaar wag vir Isak. En dit, na die HERE dit persoonlik vir hulle gesê het.
Die boek is ook nie bedoel om ‘n kitsoplossing te wees vir elke vraag nie. Ek wil graag jou gedagtes aan die gang kry dat jy self die Woord sal ondersoek, en sien wat die Bybel eintlik vir ons moet wees. Dan kan ons die Bybel gebruik soos die bekende Louis Malherbe gesê het, dat die Bybel is die mens se “workshop manual”. Hoe gebruik ek ‘n “workshop manual”? Sien die vraag later in die boek.
Laai die boek hier af in pdf formaat: Die boek van Moses
En hier vir jou slimfoon in epub formaat: Die Boek van Moses