‘n Nuwe teologie bring ek vir julle. ‘n Eeu oue teologie van ‘n verbond met Abraham, van Jesus en van geregtigheid. Dit mag dalk vir u soos ‘n teenstrydigheid klink, maar ek wil graag die dilemma vir u verduidelik.
Ek het die afgelope twintig of meer jare spandeer om uit te vind wat die regte teologie is soos ek dit verstaan, en om uit te vind wat vir my die regte boodskap van hoop is wat die Bybel verkondig. Na ‘n nood operasie en ‘n latere opvolg operasie waartydens kanker gedefinieër is, moes ek seker maak dat ek my geloof bou op wat die boodskap van die Bybel is, en nie soos deurgegee deur verskillende Kerkverbande nie. Vandag 22 jaar later, weet ek nie wanneer hierdie kanker sal besluit om my lewe te eindig nie, en het ek noodgedwonge my vrae self beantwoord nadat ek by teoloë en ander kundiges gaan kers opsteek het maar nie antwoorde kon kry op baie van my vrae nie. Dit het my geneem van Calvinistiese gemeentes, na Pinksterkerke, Charismatiesekerke, huiskerke en alles tussen in. Party as lidmaat, ander as leraar na studies by verskillende instansies, en ander as besoeker, en nog ander na hulle webtuistes.
Die grootste redes wat ek gevind het waarom daar sovele verskille in genootskappe is, is omdat mense nie die verbond verstaan nie. Hulle weet nie hoe ‘n verbond ontstaan nie en wat die effek daarvan op ons as Christene het nie. Toe die HERE die verbond met Abraham gesny het, vind ons dat dit die volgende behels het. “Daarop lei Hy hom uit na buite met die woorde: Kyk nou op na die hemel en tel die sterre as jy hulle kan tel. En Hy sê vir hom: So sal jou nageslag wees. En hy het in die HERE geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken. Verder het Hy vir hom gesê: Ek is die HERE wat jou uitgelei het uit Ur van die Chaldeërs om jou hierdie land in besit te gee. En hy sê: Here HERE, waaraan sal ek weet dat ek dit in besit sal neem? En Hy antwoord hom: Neem vir My ‘n driejaaroud vers en ‘n driejaaroud bokooi en ‘n driejaaroud ram en ‘n tortelduif en ‘n jong duif. En hy het dit alles vir Hom gebring en dit middeldeur gedeel en die helftes teenoor mekaar gelê; maar die voëls het hy nie verdeel nie. Toe kom daar roofvoëls op die dooie diere af, maar Abram het hulle weggejaag. En toe die son wou ondergaan, val daar ‘n diepe slaap op Abram, en kyk, skrik en groot duisternis het hom oorval. Daarop sê Hy vir Abram: Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in ‘n land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word vier honderd jaar lank. Maar Ek sal ook die nasie oordeel aan wie hulle diensbaar moet wees, en daarna sal hulle uittrek met baie goed. Maar jy sal na jou vaders gaan in vrede, jy sal in goeie ouderdom begrawe word. En die vierde geslag sal hierheen terugkom, want die ongeregtigheid van die Amoriete is tot nog toe nie vol nie. En ná sononder, toe dit heeltemal donker was, gaan daar ‘n rokende oond en vurige fakkel tussen dié stukke vleis deur. Op dié dag het die HERE met Abram ‘n verbond gesluit en gesê: Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, van die rivier van Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier: die Keniete en Kenissiete en Kadmoniete en Hetiete en Feresiete en Refaïete en Amoriete en Kanaäniete en Girgasiete en Jebusiete.”(Gen 15:5-21)
Vir ‘n volledige pdf weergawe kan u dit hier aflaai verbond pdf
Vir ‘n volledige epub (slimfoon) weergawe kan u dit hier aflaai verbond epub
Daar is ook 10 videos wat die onderwerp bespreek by https://www.youtube.com/playlist?list=PL4uenUs3KsehcBxvUCAL0exc9F5H0zTce. Soos met meeste van die videos is daar partykeer meer inligting as wat in die boek is, maar gebruik ek wel die boek as basis en baie kere word dit in die video bespreek presies soos in die boek.