Die Openbaring van die Openbaring van Johannes

DIE VERKLARING VAN BYBELSE PROFESIEË

Die verklaring van Bybelse profesieë is ‘n onderwerp van groot omstredenheid, en Christene word na aanleiding daarvan in verskillende leerstellige skole geplaas.

As gevolg van hierdie omstredenheid word verskillende eksegetiese of verklarende beginsels vir Bybelse profesieë gebruik. Sommige daarvan wyk só ver van die grondbetekenis van die teks af dat dit die goddelike inspirasie van die Bybel in die gedrang bring.

Die volgende is die vier algemeenste teologiese benaderings tot Bybelse profesieë soos deur die Dispensasionaliste gesien.:

1. HISTORIESE PREMILLENNIALISME

Tot ongeveer die einde van die vierde eeu n.C. was historiese premillennialisme die mees algemene beskouing oor eindtydse gebeure. In terme hiervan is verwag dat daar in die eindtyd ‘n Antichris sal opstaan en dat die kerk deur die tyd van verdrukking sal moet gaan. Aan die einde van die verdrukking sal die gelowige ontslapenes opstaan en saam met die lewende gelowiges na die hemel weggevoer word. Hulle sal dan dadelik, tydens Christus se wederkoms, saam met Hom terugkeer aarde toe sodat Hy die groot verdrukking kan beëindig, die Antichris en sy hordes verdelg, die oorblyfsel van Israel red en sy duisendjarige vrederyk met Jerusalem as hoofstad vestig. Almal behalwe een van die vroeë kerkvaders wat oor die profesieë geskryf het, het hierdie siening gehuldig.

2. AMILLENNIALISME (ANTICHILIASME)

Hierdie denkrigting vloei voort uit die aanname dat Bybelse stellings nie letterlik opgeneem moet word nie, maar allegories of geestelik. Dié interpretasie het sy oorsprong in die Alexandrynse teologiese skool in die derde en vierdie eeue gehad.

Origenes (geb. 185 n.C.) is die vader van die allegoriese interpretasie en het heelwat boeke oor die verstaan van die Bybel geskryf. Hy was egter sterk onder die invloed van die Griekse filosofie van Plato, en wou filosofies meeleef maar tó g ook Christen bly.

3. POSTMILLENNIALISME

Sedert die middel van die 16de eeu het ‘n nuwe siening oor die vervulling van Bybelse profesieë posgevat, nl. postmillennialisme. In terme hiervan sal die wêreld gaandeweg as gevolg van evangelisasie ‘n beter plek word om in te bly, en sal die millennium van die kerkbedeling uiteindelik aanbreek. Aan die einde van die “goue eeu” van ‘n Christelike wêreld, sal Jesus Christus vir die finale oordeel terugkom. Volgens postmillennialiste sal daar nie ‘n verdere bedeling van die koninkryk van God op aarde, met Jerusalem as hoofstad, wees nie.

Die kerkhervorming, asook die opkoms van Europese koloniale moondhede (veral die vinnige uibreiding van die Britse ryk) het die idee by sommiges laat ontstaan dat sendelinge die evangelie oor die hele wêreld sou uitdra, en dat dit uiteindelik sou lei tot ‘n Christelike wêreld waarin daar reg en geregtigheid geskied. Christelike hervorming en rekonstruksionisme moet dus voortdurend plaasvind totdat hierdie ideaal bereik is.

Hierdie mense glo duidelik nie dat die wêreld geestelik en moreel ál hoe donkerder word, met relatief min wat na die smal weg oorkom, en uiteindelik op die groot verdrukking onder die bewind van die Antichris afstuur nie. Die wêreld moet beter word sodat die millennium voor die wederkoms van Christus kan aanbreek.

Verskeie postmillennialistiese groepe huldig nog steeds hierdie ideaal. Sommige van dié beweging se leiers tree tot die politiek toe in die hoop dat die Here Christene in sleutelposisies sal plaas om die wêreld vir die koninkryk van God te kan oorneem.

Ander bewegings en kerkgroepe wend hulle tot ‘n bonatuurlike magspel van tekens en wonders om sodoende die wêreld aan hulle voete te kry en ‘n groot herlewing tot stand te bring. Ander probeer om deur middel van strategiese geestelike oorlogvoering die vestings van Satan te verbreek en hom dan van die planeet aarde af te verdryf sodat hy die nasies nie meer kan verlei nie.

U kan die volledige boek hier aflaai: Die openbaring van die Openbaring van Johannes