Die Openbaring van die Openbaring van Johannes

Die Verklaring van Bybelse Profesieë

Die verklaring van Bybelse profesieë is ‘n onderwerp van groot omstredenheid, en Christene word na aanleiding daarvan in verskillende leerstellige skole geplaas.

As gevolg van hierdie omstredenheid word verskillende eksegetiese of verklarende beginsels vir Bybelse profesieë gebruik. Sommige daarvan wyk só ver van die grondbetekenis van die teks af dat dit die goddelike inspirasie van die Bybel in die gedrang bring.

Die volgende is die vier algemeenste teologiese benaderings tot Bybelse profesieë soos deur die Dispensasionaliste gesien.:

1. Historiese premillennialisme

Tot ongeveer die einde van die vierde eeu n.C. was historiese premillennialisme die mees algemene beskouing oor eindtydse gebeure. In terme hiervan is verwag dat daar in die eindtyd ‘n Antichris sal opstaan en dat die kerk deur die tyd van verdrukking sal moet gaan. Aan die einde van die verdrukking sal die gelowige ontslapenes opstaan en saam met die lewende gelowiges na die hemel weggevoer word. Hulle sal dan dadelik, tydens Christus se wederkoms, saam met Hom terugkeer aarde toe sodat Hy die groot verdrukking kan beëindig, die Antichris en sy hordes verdelg, die oorblyfsel van Israel red en sy duisendjarige vrederyk met Jerusalem as hoofstad vestig. Almal behalwe een van die vroeë kerkvaders wat oor die profesieë geskryf het, het hierdie siening gehuldig.

2. Amillennialisme (antichiliasme)

Hierdie denkrigting vloei voort uit die aanname dat Bybelse stellings nie letterlik opgeneem moet word nie, maar allegories of geestelik. Dié interpretasie het sy oorsprong in die Alexandrynse teologiese skool in die derde en vierdie eeue gehad.

Origenes (geb. 185 n.C.) is die vader van die allegoriese interpretasie en het heelwat boeke oor die verstaan van die Bybel geskryf. Hy was egter sterk onder die invloed van die Griekse filosofie van Plato, en wou filosofies meeleef maar tóg ook Christen bly.

3. Postmillennialisme

Sedert die middel van die 16de eeu het ‘n nuwe siening oor die vervulling van Bybelse profesieë posgevat, nl. postmillennialisme. In terme hiervan sal die wêreld gaandeweg as gevolg van evangelisasie ‘n beter plek word om in te bly, en sal die millennium van die kerkbedeling uiteindelik aanbreek. Aan die einde van die “goue eeu” van ‘n Christelike wêreld, sal Jesus Christus vir die finale oordeel terugkom. Volgens postmillennialiste sal daar nie ‘n verdere bedeling van die koninkryk van God op aarde, met Jerusalem as hoofstad, wees nie.

Die kerkhervorming, asook die opkoms van Europese koloniale moondhede (veral die vinnige uibreiding van die Britse ryk) het die idee by sommiges laat ontstaan dat sendelinge die evangelie oor die hele wêreld sou uitdra, en dat dit uiteindelik sou lei tot ‘n Christelike wêreld waarin daar reg en geregtigheid geskied. Christelike hervorming en rekonstruksionisme moet dus voortdurend plaasvind totdat hierdie ideaal bereik is.

Hierdie mense glo duidelik nie dat die wêreld geestelik en moreel ál hoe donkerder word, met relatief min wat na die smal weg oorkom, en uiteindelik op die groot verdrukking onder die bewind van die Antichris afstuur nie. Die wêreld moet beter word sodat die millennium voor die wederkoms van Christus kan aanbreek.

Verskeie postmillennialistiese groepe huldig nog steeds hierdie ideaal. Sommige van dié beweging se leiers tree tot die politiek toe in die hoop dat die Here Christene in sleutelposisies sal plaas om die wêreld vir die koninkryk van God te kan oorneem.

Ander bewegings en kerkgroepe wend hulle tot ‘n bonatuurlike magspel van tekens en wonders om sodoende die wêreld aan hulle voete te kry en ‘n groot herlewing tot stand te bring. Ander probeer om deur middel van strategiese geestelike oorlogvoering die vestings van Satan te verbreek en hom dan van die planeet aarde af te verdryf sodat hy die nasies nie meer kan verlei nie.

4. Moderne, dispensasionele premillennialisme

In dispensasionele teologie word die Bybel letterlik verklaar vanuit die perspektief van God se handelinge met die mens in opeenvolgende bedelings. Die kerkdispensasie word deur die wegraping afgesluit sodat die volgende bedeling (die verdrukking van sewe jaar tydens die Antichris se regering) kan aanbreek. Omdat die verdrukking ook met goddelike oordele gepaard gaan, sal die ware kerk van Christus voor die tyd weggeneem word omdat hulle nie vir God se toorn oor die sondaars bestem is nie. ‘n Voor-verdrukking-wegraping is dus ‘n noodsaaklike deel van moderne dispensasionelepremillennialisme.

Premillennialisme is tot die letterlike grondbetekenis van die Skrif verbind, behalwe waar dit uit die konteks baie duidelik is dat simboliese taal gebruik word. Voorbeelde van sulke simbole is die rooi draak met sewe koppe, wat in die Bybel self as die duiwel beskryf word. Simbole het dus meestal ‘n lettterlike teëbeeld, soos ook die Lam wat op Christus dui. Wanneer die Bybel egter oor Israel, die Antichris, die groot verdrukking, die valse profeet, die slag van Armagéddon, die wederkoms van Christus en die binding van Satan in ‘n put vir eenduisend jaar praat, is daar geen gronde hoegenaamd om hierdie begrippe simbolies of allegories te verklaar nie.

My interpretasie – Voorbeeld metode van geregtigheid

Ek wil hier begin met ‘n vers wat ek dink meeste mense geen aandag aan gee nie, maar tog is dit baie belangrik. “Ek is die HERE jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het.” (Exo 20:2) Hier vind ons dat voordat die HERE vir Israel die tien gebooie gee, Hy bekend maak dat Hy verantwoordelik is vir die feit dat hulle uit Egipte kon kom. So vir die Israeliete om dit te besef en voor dankie te sê, gee die HERE hulle riglyne van hoe hulle teenoor Hom en hul medemens moet optree. Soos Israel moet ek ook tot die besef kom dat Hy die een is wat my die geleentheid gegee het om van my sondige lewe ontslae te raak, en daaroor sal ek ook ‘n sekere lewensstyl en waardestelsel moet aanvaar. Daaroor dat Jesus die wet saamvat met die woorde: “En Hy antwoord hom: Wat is in die wet geskrywe? Hoe lees jy? En hy antwoord en sê: Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou naaste soos jouself. Toe sê Hy vir hom: Jy het reg geantwoord; doen dit, en jy sal lewe.”(Luk 10:26-28) So Jesus gebruik hier die voorbeeld metode om met die mense te praat, en dit is wat ek ook regdeur hierdie boek doen.

My metode verskil van die vier voorafgaande metodes aangesien ek graag wil sien dat die uitleg van enige profesie die toets van tyd moet kan deurstaan. Dit is so dat baie van die Ou Testamentiese profesieë vir ‘n spesifieke tyd of gebeurtenis van toepassing was, en vir daardie gebeurtenis geskryf en van toepassing was, maar die beginsels van die profesie of geskiedenis het nie verander nie. So kan ons baie van die profete lees en sien dat dit altyd drie of vier beginsels bevat het. Daar is eerstens vir die mense verduidelik wat verkeerd was met hulle, tweedens wat hulle moes doen om te bekeer om weer guns by die HERE te ontvang, en dan laastens wat die resultate sal wees indien hulle nie gehoor gee nie, en wat die resultate sal wees wanneer hulle wel gehoor gee. Baiekeer is daar dan ook van beeldspraak gebruik, dieselfde manier wat Jesus Sy gelykenisse vir ons oorgedra het.

Nou gee Paulus vir ons verder twee baie belangrike sleutels om die Bybel mee te ontsluit wat ek vind by al die ander metodes afwesig is. In 1 Korintiërs 10 skryf hy as volg: “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle nie sou weet nie dat ons vaders almal onder die wolk was en almal deur die see deurgegaan het, en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see, en almal dieselfde geestelike spys geëet het, en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus. Maar God het in die meeste van hulle geen welgevalle gehad nie, want hulle is neergeslaan in die woestyn. En hierdie dinge was voorbeelde vir ons, dat ons nie begerig moet wees na slegte dinge soos hulle begerig was nie. En wees ook nie afgodedienaars soos sommige van hulle was nie, soos geskrywe is: Die volk het gaan sit om te eet en te drink en het opgestaan om te speel. En laat ons nie hoereer soos sommige van hulle gehoereer het nie, en daar het op een dag drie en twintig duisend geval. En laat ons Christus nie versoek soos ook sommige van hulle gedoen het nie, en hulle het deur die slange omgekom. En moenie murmureer soos ook sommige van hulle gemurmureer het nie, en hulle het deur die verderwer omgekom. Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het. Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie. Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.” (1Kor 10:1-13)

Hier verduidelik Paulus aan die gemeente dat ons moet oplet hoe die HERE met Israel gehandel het en daaruit moet ons leer hoe Hy vandag en in die toekoms gaan optree. Ons moet onthou dat die Hebreërs skrywer die volgende skryf: “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid. Moenie rondgeslinger word deur allerhande en vreemde leringe nie; want dit is goed dat die hart versterk word deur genade, nie deur voedsel nie, waarvan die wat daarin gewandel het, geen voordeel gehad het nie. (Heb 13:8-9) So dit bevestig dat ons Israel as voorbeeld kan gebruik om te sien wat vandag gaan gebeur indien ek verkeerd of reg doen. Om die waarheid te sê voel Paulus so sterk daaroor dat hy die gemeente daarmee waarsku dat hulle nie in hulle eie denke moet voortgaan nie, maar moet oplet hoe die HERE met hulle gaan optree wanneer hulle dieselfde sonde doen of dieselfde optree as wat vroeër deur Israel gedoen is.

Die tweede gedeelte wat Paulus gebruik vind ons in die tweede brief aan die gemeente in Korinte. “En as die bediening van die dood, met letters op klippe gegraveer, in heerlikheid was, sodat die kinders van Israel nie die oë kon vestig op die aangesig van Moses nie vanweë die heerlikheid van sy aangesig, wat tog moes vergaan, hoeveel te meer sal die bediening van die Gees dan nie in heerlikheid wees nie? Want as die bediening wat veroordeel, heerlikheid was, veel meer is die bediening wat regverdig maak, oorvloedig in heerlikheid. Want wat verheerlik was, is ook in hierdie geval nie verheerlik nie, vanweë die alles oortreffende heerlikheid. Want as wat moes vergaan, met heerlikheid was, veel meer is wat moet bly, in heerlikheid. Terwyl ons dan sodanige hoop het, gebruik ons baie vrymoedigheid; nie soos Moses nie, wat ‘n bedekking oor sy aangesig gesit het, sodat die kinders van Israel nie die oë kon vestig op die einde van wat moes vergaan nie. Maar hulle sinne is verhard. Want tot vandag toe bly by die lesing van die Ou Testament dieselfde bedekking sonder dat dit opgelig word, die bedekking wat in Christus vernietig word. Ja, tot vandag toe, wanneer Moses gelees word, lê daar ‘n bedekking oor hulle hart; maar wanneer hulle tot die Here bekeer is, word die bedekking weggeneem. Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid. En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is.” (2Kor 3:7-18)

lees meer.